Wanneer vishoeke, verander word in kruishoeke ….
Ons lewe in ‘n harde wêreld waar mense daagliks vishoeke uitgooi om hulle medemens te vang. In die korporatiewe wêreld wil mense die leer van sukses klim.
Om bo uit te kom, stel hulle dilwels vishoeke met aas om hulle mededingers te uit oorlê en in ‘n slegte lig te stel. In die politieke arena, gooi politici hulle aas met vishoeke uit om hulle opponent in die slegte moontlike lig te stel. In die ekonomiese wêreld skep handelaars dikwels vishoeke met aas om kliënte aan te moedig om dinge te koop wat hulle eintlik nie kan bekostig nie. Mense skinder om mense uit hulle goeie naam te trek en hulle in ‘n swak lig te stel. In die mikroleningbedryf word mense aangemoedig om maklik geld te leen teen ‘n buitengewone rentekoers om vir hulle vir altyd slagoffers te maak van die skopper. Wanneer jy jou geld terugbetaal het, wat die skopper self namens jou trek, is jy in so ‘n slegte posisie, dat jy gedwing word om weer teen die hoë maandelike rentekoers te leen. Skoppers in die mikroleningsbedryf hou self hul kliënt se bankkaart in hulle besit, teen alle wette in. Mense gooi vishoeke uit en plant slagysters om ander in ‘n slegte lig te sien. In die Bybel lees ons dikwels van Farisieërs wat vishoek – vrae vir die Here gevra het om hom uit te lok om verkeerde antwoorde te gee, sodat hulle rede het om hom te vervolg. Hulle vra, was daarop gemik om hom uit te vang. Dikwels kan mense met die mooiste aanbiedinge en beloftes kom, net om van jou ‘n slagoffer te maak.
Natuurlik is die duiwel die bobaas visvanger. Hy het ‘n vishoek en ‘n stukkie aas wat elke soort mens sal uitvang. Vir elke mens het die duiwel sy eie aas. Dit kan aas wees van skinder, kwaadpraat, seksuele sondes, gierigheid, trots, hoogmoed, onvergewensgesindheid of enigiets anders. Hy wil ons uittrek om buite “God se wil vir ons lewe” te leef. Tereg word gepraat van die bose drie-eenheid, naamlik die duiwel, die sondige wêreld en ekself. In hierdie viswater is daar baie vishoeke, wat ons elke dag verlei om die aas van versoeking te vat.
In Mat 4: 1 – 11 lees ons ook hoedat die duiwel vir Jesus probeer versoek en vir hom vishoeke uitgooi met drie verskillende vorme van aas. Die aas lyk aantreklik, want sien die duiwel stap nie met horings by jou in nie, maar as ‘n vriendelike heer. Die duiwel versoek Jesus in die woestyn, direk na sy doop met water wat Hy van Johannes gekry het. As’t ware toets die duiwel vir Jesus of die Vader se kompliment dat Jesus die Seun van God waar is.
Jesus word onder die Gees, die woestyn ingelei, die plek waar die geeste is om in stryd met die bose geeste te gaan. Woestyne is gesien as gevaarlike plekke waar die geeste bly. Gewoonlik het die mense blou klere en geklee met amulette en simbole die woestyn ingegaan om hulle te beskerm. Waarskynlik het Jesus daarsonder die woestyn ingegaan, want ons teks meld niks daarvan nie. Die getal 40 speel ‘n belangrike rol in die Bybel. Direk na die deurtog van die Rooi See is die volk 40 jaar versoek in die woestyn. Moses het 40 dae gevas op Sinaï – berg voor hy die wet terug gebring het. Elia het 40 dae gevas op Berg Horeb.
Daar is ‘n verskil tussen beproewings en versoekings. Beproewings gebruik die Here om die beste in jou na vore te bring.Versoeking gebruik die duiwel om die slegste in jou na vore te bring. Die duiwel wil Jesus laat misluk. God is in Jesus, Jesus is in die kerk en die kerk is in die wêreld. Die duiwel wil soos ‘n skerpskutter vir Jesus uithaal uit die heilsplan van God met die wêreld.
In die tropiese woude vind ‘n mens die bekende Venus Fly Trap. Dit is ‘n soort plant wat ‘n karnivoor is. Natuurlik kry ‘n mens baie ander soorte narnivoriese plante. Dit is plante wat op vleis lewe.
Die Venus Fly Trap lok insekte deur middel van kleur en reuk nader. Die insekte sit dan vas in die klewerige slymlaag van die plant en word ingesuig en die plant se kake gaan toe om sy slagoffer. Die plant stel ‘n “trap” vir insekte. So het die duiwel ook vir Jesus in die woestyn drie verskillende “traps” of slagysters gestel. Elkeen van die drie versoekings was op verskillende vlakke gewees. Ons kan dus as’t ware sê dat Jesus aan ‘n totale aanslag van versoekings blootgestel was.
Woestyne is eensame plekke. Daar is min versterkinge. Woestyne is plekke waar die geeste praat en het die bose geeste nie probeer om van Jesus besit te neem nie. Die Duiwel gebruik die oomblik van Jesus se broosheid. As iemand lê, trap op hom. Wanneer Jesus op Sy kwesbaarste is, kom die duiwel met ‘n totale aanslag.
Ten diepste is ‘n versoeking, dat die duiwel jou probeer “iets” te wil wees. Eva wou soos God wees, daarom het sy van die verbode vrug geeet. Feitlik elke sonde en versoeking kan terug gelei word na die mens wat iets anders wil wees, as waartoe God die mens geskep het. Wat wil die duiwel hê moet jy wees? Ryk, vooraanstaand, gewild, populêr, almal moet van my hou, suksesvol en so kan die lysie aanhou.
Jesus word versoek om “iemand” ander te wees, as waarvoor die Vader vir hom gestuur het. Die duiwel wil van Jesus (a) ‘n Brood Messias, (b) ‘n Sensasie Messias en (c) ‘n politieke Messias maak. (Andrie du Toit se onderskeiding.) Interresant dat die versoekings opwaarts loop van die vlaktes waar die klippe lê, na die tempel se hoogste punt en uiteindelik by die hoogste punt van die berg.
Die heel eerste versoeking gaan daaroor dat die duiwel vir Jesus versoek om in sy hongerte van klippe brode te maak. Hy wil as’t ware van Jesus ‘n Brood Messias maak wat net gekom het vir die liggaamlike nood van mense. Mense kan dikwels net ingestel wees op hulle liggaamlike behooeftes, dat hulle slegs vleeslike mense is, sonder om hulle eie spiritualiteit te herken en te verstaan. Duidelik weerstaan die Here die duiwel met die volgende woorde in vers 4: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” In geen onduidelike taal onderstreep die Here dat die mens ten diepste ‘n spirituele mens is.
Die tweede versoeking is daarop gemik om van Jesus ‘n Sensasie Messias te maak. Deur die eeue was die mensdom nog altyd ingestel op sensasie. Sensasie verkoop. Mense dagdroom oor sensasie. Die versoeking was dat Jesus van die heilige stad se tempel moet afspring en sy engele moet opdrag gee om hom te dra. Weereens weerlê Jesus die versoeking met die woorde in vers 7: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” Jesus weier om ‘n Sensasie Messias te wees. Hy sou eerder die lydende Messias word wat sy dissipels se voete sou was.
Die derde versoeking is daarop gemik om van Jesus ‘n Politieke Messias te maak. Die versoeking gaan daaroor dat die duiwel die Here na ‘n baie hoë berg
geneem het en al die Koninkryke in al hul prag en praal vir Jesus gewys het en hom versoek het om neer te val en hom (die duiwel) te aanbid, dan sal die duiwel dit alles vir die Here gee. Weereens weerstaan Jesus die versoeking om ‘n Politieke Messias te wees en die gewildheid van die massas na te jaag. In vers 10 staan daar geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” In sy drie jaar se openbare optrede was daar telkens die politieke versoeking om die Jode van die Romeinse juk te bevry. Dit het Jesus nie gedoen nie. Sy taak was nie politieke bevryding nie, maar geestelike bevryding.
Telkens kom die versoeking na ons om iemand anders te wees, as waarvoor God ons bedoel het om te wees. John Ortberg sê om moet onderskei, oor waarom ons ‘n ANDER MENS wil word. Dikwels is dit juis die versoeking in ons lewe.
Hoewel Jesus na 40 dae fisies op sy swakste is, is Hy spiritueel op sy sterkste en kan hy die totale aanslag van die duiwel weerstaan. Daarom moet ons hieruit leer dat ‘n mens spiritueel in jou binneste moet groei om die aanslae van buite te weerstaan. Kontemplatiewe spiritualiteit is ‘n beweging na binne en nie na buite nie. Eers wanneer jy innerlike vrede en rus het, kan jy na buite sterk, dapper en onverskrokke optree. Hy weerstaan die duiwel, elke keer met die Woord van God, vanuit sy innerlike sterkte.
Die moderne mens is geneig om baie liggaamlik ingestel te wees om aardse behoeftes van liggaam, mag, aansien, rykdom en besittings. Die uiterlike liggaam en voorkoms is jou “image”, jou persoonlike “idol”. Om versoekinge te weerstaan is om nie jou aptyt te bevredig na verskillende liggaamlike dinge nie. Dit is om spiritueel ingestel te wees op die influistering van die Gees. Ons enigste ware vryheid is om nie slawe van ons aptyt te wees nie. Om te kan NEE sê, maak ons vry van ons liggaamlike verslawings.
Die woestyn ervarings was ‘n voorbereiding vir Jesus wat nog vir Hom voorlê.
Wonde wat opgedoen word deur die stryd teen die Bose kan altyd geheel word – God het sy engele gestuur om Jesus te versorg. Wonde egter wat ek self opdoen deur aan versoekings te voldoen – loop dikwels lewenslank saam met my. (Uit die mond van ‘n ou kerkvader) Luther haal ook Taulerus aan : In goeie tye gebruik seevaarders roeispane, maar in tye van versoeking soek hulle hul troos in die anker. Ons enigste anker en troos is Jesus Christus. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)