Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Alle grense wat daar bestaan is die gevolge van sonde. Reg aan die begin het Adam en Eva gesondig en hulle is uitgesit uit die Paradys, met engele as wagte van die eerste grenslyn. Met die toring van Babel was die straf van die mense dat daar skeidslyne gekom het tussen tale en kulture. Mense het mekaar nie verstaan nie en elkeen het weg getrek om die hele aarde te bewoon, soos wat God se oorspronklike opdrag was.

Daar is grense in die politiek, die ekonomie, geslagverskille, godsdiensverskille, taal en kulturele spanningsvelde. Daar is bykans nie ‘n sfeer in die samelewing waar daar nie een of ander grens bestaan tussen mense nie. Hoe banger jy is of hoe onsekerder jy is, hoe meer geneig is jy om ‘n grens of muur rondom jou te bou.

Skuurpapiermense-WEB2In elkeen se lewe is daar natuurlik ook die sogenaamde “Skuurpapiermense”, dit is nou die mense met wie ‘n mens moeilik oor die weg kom. Hulle skuur gedurig aan jou. Somtyds is dit iemand by die werk, of in die gemeenskap waar jy bly of iemand wat saam met jou in jou huis bly en somtyds kan ek self ook daardie skuurpapiermens wees. (Braam van der Schyff van Impetus gebruik die term van skuurpapiermense.)

In ons gelese gedeelte van Joh 4: 1 – 42 lees ons hoedat Jesus grense oorsteek na skuurpapiermense en nuwe verhoudinge bou. Jesus en sy dissipels het weggevlug uit Judea oor die jaloesie van die Farisieërs omdat Jesus meer dissipels maak as hulle. Hulle was toe op pad Galilea toe. Hulle het toe ‘n kort pad gevat deur die land van Samaria, waar die Samaritane gebly het. Hulle kom toe op die warmste van die dag by die dorpie Sigar. Net buite die dorp rus Jesus toe by die put, terwyl sy dissipels dorp toe is om kos te koop.

Toe gebeur die ondenkbare. Jesus maak homself onrein om ‘n Samaritaanse vrou en haar dorp rein te maak.

vrou-put-heqiDaar was drie dinge wat teen dié vrou getel het. Eerstens was dit haar afkoms. Sy was ‘n Samaritaan en Jesus was ‘n Jood. Die Jode het van die Samartiane as “honde” gepraat en daar was voordurende spanning tussen die twee groepe. Die twee groepe het ook nie met mekaar gemeng nie. Die tweede was haar geslag. In die antieke tyd was dit onbetaamlik vir ‘n man om met ‘n vrou in ‘n openbare plek soos die put te praat. Vroue was benede mans gesien en was besittings van mans. Die derde rede was dat sy reeds 5 keer geskei was en dat die 6 de man ook ‘n saambly verhouding was. In die Samaritaanse huwelikswet was daar ‘n bepaling dat ‘n vrou net drie keer mag skei. Daarna moes sy ongetroud bly. Sy was dus ‘n uitgeworpene in haar dorpie. Sy was ‘n regte skuurpapiermens. Niemand het van haar gehou nie. Dit verklaar ook waarom sy op die hittigste van die dag, 12h00 vir haar en haar diere gaan water skep. Al die vernaamste en goeie mense van goeie karakter het vroegoggend as dit nog koel is gaan water skep. Sy moes haar beurt afwag en heel laaste, wanneer die op sy warmste is gaan water skep. Sy was ook alleen – ‘n verworpene! (Tussen 10h00 en 12h00 was dit ook etenstyd – almal het geeet. Sy moes op hierdie ongerieflike tyd haar kans waag by die put).

Dan ontmoet sy Jesus. Hulle begin oor ‘n alledaagse item soos “water” te gesels. Jesus vra vir haar ‘n beker water. Onmiddelik reageer die skuurpapiervrou op ‘n sarkastiese toon op Jesus se vriendelike versoek. “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (vers 9) Sien u hoe die vrou die grense wat in die destydse samelewing gegeld het as ‘n stuk verontwaardiging gebruik.

Maar Jesus gaan aan met die gesprek. Hy laat Hom nie van stryk bring nie, want Hy is die een wat grense oorsteek, selfs met die grofste skuurpapier of die hardkoppigste mens.

Jesus bied vir haar water aan, as sy daarvan sou drink sal sy nooit weer dors kry nie. Natuurlik bedoel Jesus dat “hyself” die lewende water is. Let op die woordspel. Die water wat by die put geskep word, vra menslike inset. Jy moet “skep”. Die water wat Jesus gee is ‘n fontein wat opborrel, dit is verniet en jy hoef nie daarvoor te delf nie. Verlossing is nie mensgemaak om te delf nie, maar word aan ons gegee uit vrye genade, dit borrel op na ons toe.

Maar die Samaritaanse vrou soek ‘n nuwe twispunt. Dit is ‘n eeue oue twispunt naamlik waar moet ‘n mens aanbid. Sy wil van godsdiensverskille weereens ‘n grens maak. Die Jode sê ‘n mens moet God in Jerusalem aanbid en die Samaritane sê die berg Gerisim (Deut 12:5) is die plek van aanbidding. Jesus ontlont die twispunt deur te sê dat God in Gees en waarheid aanbid moet word. Jesus sê as’t ware dat God nie aan ‘n bepaalde plek gebonde is nie, maar deur Sy Gees op alle plekke, in Jerusalem, op die berg Gerisim en ook hier by die put van Sigar teenwoordig is. (Gaan lees ook Ps 139) So steek Jesus ook die grens oor wat destyds bestaan het, waar jy God moet aanbid.

So breek Jesus die grense af, sodat die vrou Jesus nie meer as net ‘n profeet sien nie, maar opreg wonder of Hy nie dalk die Christus die Messias is nie. Dan gebeur die ondenkbare. Sy hardloop terug na Sigar, die dorp wat haar verwerp het en so word sy ‘n draer van die goeie boodskap. Die Samaritane gaan soek Jesus by die put. Die dorp steek ‘n grens oor om ‘n Jood by hulle waterput te ontmoet. Dan nooi die dorpelinge vir Jesus om in hulle dorp te bly. Jesus bly daar twee dae. So ondenkbaar as wat een van ons vir twee aande in Khayelitsha se plakkersgedeelte sal oornag. Baie van die dorp se mense kom tot bekering en so breek Jesus grense af tussen mense.

Nog ‘n voorbeeld in die Bybel is die verhaal van Saggeus, wat ook ‘n skuurpapiermens was.

ingenooi kleurNiemand het van hom gehou nie. Hy is gebore met ‘n Joodse naam Sagaria, maar het later sy naam verander na ‘n Griekse naan Saggeus. (Die “us” aan die einde is ‘n tipiese Griekse naamvorm). Hy was kort. Dalk het die Jode hom gespot oor sy kortheid en toe word hy Griek en samel vir die Romeinse owerheid tolgeld in. Hy was so min of meer gewild soos SANRAL met hul tolpaaie in Gauteng was. Maar die ergste was ook dat hy ‘n tipiese verneuker was en meer geld geeis het as wat hy mag en die res in sy eie sak gesit het. Hy was die grofste denkbare skuurpapiermens. En toe kies Jesus juis om in die mees ongewildste persoon in Jerusalem se huis tuis te gaan. Jesus se liefde en die feit dat hy bereid was om grense oor te steek verander Saggeus in ‘n goeie, eerbare en regverdige man.

Die barmhartige Samaritaan is ook ‘n goeie voorbeeld van ‘n Samartiaan wat ‘n Joodse man gehelp het wat onder rowers vir dood agter gelaat is. Die priester en profeet het verbygestap omdat hulle bang is hulle word onrein, as die man dalk dood sou wees en dan kan hulle nie hulle diens in die tempel nakom nie. Die reinigingswette was grense wat hulle instand moes hou. Die Samaritaan het die kulturele grens oorstap en vir die man ‘n redder geword.

Daar word ook die verhaal vertel vanuit die Middeleeue van ‘n priester wat ‘n vrou bygestaan het wie se seun selfmoord gepleeg het. In die Middeleeue het mense geglo dat as jy selfmoord pleeg jy nie hemel toe kan gaan nie. Daarom was dit die gebruik in die Middeleeuse dorpies dat dié sulkes wat hulle eie lewe geneem het, buite die dorp se kerkhof begrawe moet word. (Gelukkig sien ons dit vandag anders. God se genade het nie grense nie, ook hulle wat selfmoord pleeg word vergeef en is veilig in Jesus se arms.) Maar om terug te kom by die verhaal. Die moeder het ontroosbaar gehuil oor die verwerping van haar seun. Die priester het haar jammer gekry en gesê: “Mevrou kom ons begrawe hom buite die kerkhof soos die wet bepaal. Ek sal later ‘n plan maak.” Hy is toe so ‘n paar meter buite die kerkhof begrawe. ‘n Week later toe die vrou blomme op haar seun se graf wou opsit, kom sy agter haar seun is nou begrawe binne die kerkhof. Want sien die priester het die heining van die kerkhof verskuif om ook die seun in te sluit in die kerkhof. Tog het hy daardeur geen van die dorp se wette gebreek nie. So het Jesus ook buite die stad Jerusalem tussen die uitgeworpenes gesterf, sodat hy die grense van genade kan verlê om ons ook in te sluit in sy genade.

Wanneer ons grense instand wil hou, wat mense uitsluit, kan ons nie deel wees van God se Missio Dei nie. God breek mure af en steek grense oor, omdat sy hart van liefde brand.

Dan kan ek saam met Johannes Kerkorrel sing: “Gee jou hart vir Hillbrow, Khayelitsha, die bergie onder die brug, die straatkind by die verkeerslig, die mede-gelowiges wat anders as ek lyk, want Jesus is die Messias.”

Dan is ons plus-minus besig om God se wil te doen. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG kerk Adelaide.)

One thought on “Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s