MENSE SE TOEKOMS HANG AF VAN BELOFTES.


MENSE SE TOEKOMS HANG AF VAN BELOFTES.

Waarom is ons land in ‘n chaos? Waarom is so baie huwelike en gesinne in ‘n krisis? Waarom gaan dit so benard in die samelewing? Die antwoord is eenvoudig: Mense is lief om hulle beloftes te verbreek. U sien  u toekoms, die toekoms van u huwelik, die toekoms van u gesin, die toekoms van die samelewing en van hierdie land hang van beloftes af. Waar beloftes nagekom word, gaan dit goed. Waar beloftes gebreek word, tree daar chaos in.

egg-broken_promises_by_herrfous1

Die president van die land belowe in sy ampseed, om die belange van sy land te beskerm. Dan bou hy vir homself ‘n Nkandla en klim in die bed saam met die Guptas. Ministers belowe in hulle ampsbeloftes om hulle departemente te bevorder, dan vlieg hulle besigheidsklas die wêreld vol en bly in die beste en duurste hotelle in die wêreld en eet hulle departemente se geld op. Studente onderteken ‘n gedragskode wanneer hulle toegelaat word tot die Universiteit. Dan brand hulle Universiteitsgeboue af, skep anargie en chaos. Dit kos weer vir die Univeriteite miljoende rande om sekuriteit op te skerp. Daar bestaan nie iets soos studentetrots nie. Mediese dokters lê die eed van Hippokrates af en dan word aborsies ‘n florerende bedryf vir sommige dokters. Munisipaliteite belowe met die verkiesing ‘n beter lewe vir al hulle kiesers. In plaas van dat die geld gaan vir infrastruktuur, word die soustrein net al hoe langer en dikker. As jy onbevoeg is, san word ‘n konsultant vir jou aangestel. Maatskappye belowe die beste waarborge en naverkope diens.As jy dit nodig kry, is daar ‘n klomp verskonings. Polisiemanne belowe om die samelewing te beskerm en dan word sommiges te dikwels self verbind met ondergrondse bedrywighede. Werknemers belowe om hulle beste werk te gee vir die werknemers, maar dit duur net ‘n kort rukkie. Hoe sê die spreukwoord: “Nuwe besems vee skoon.” Werkgewers belowe die son en maan vir nuwe werknemers, om net later hulle werknemers te laat krepeer in ellende. Verkeerspolisiemanne belowe om die gemeenskap te dien, maar dikwels vind korrupsie heel eerste hier plaas, soos onlangs ook hier op Adelaide gebeur het.

Egpare belowe trou aan mekaar, om net later ‘n goedkoop verskoning te soek om van mekaar te skei. Ouers lê doopbeloftes af, sonder om bekommerd te wees oor hulle kinders se geestelike heil. Jongmense belowe met die openbare bevestiging van geloof dat hulle getroue lidmate sal wees van die kerk. So baie sien daarna, selde die binnekant van ‘n kerk. Wanneer ek moet help in die kerk, is ek dikwels vol verskonings of klagtes.

Ons wêreld val uitmekaar, omdat ons woord nie meer ons eer is nie. Ons is belofteverbrekers.

God is egter so gans anders. Wanneer God ‘n belofte maak, is Hy ook die waarmaker van Sy beloftes. Hy het vir Abraham uit Ur van die Galdiërs geroep en belowe om vir hom ‘n groot nageslag te gee. Op ‘n onmoontlike ouderdom kry Abaraham en Sarah ‘n kindjie Isak. Die seuntjie moes amper geoffer word, maar God het betyds ‘n slagding voorsien. In Egipte het Abraham se nageslag so gegroei, dat die Farao bang geword het, en begin het om die Israeliete te vervolg en die lewe vir hulle moeilik te maak.

250px-YHWH.svgDie Here voorsien Moses en verskyn aan Moses, deur Homself voor te stel as Jahweh. Hierdie 4 letter konsonante word beteken: “Ek is wat ek is. My Ja, is my Ja, my beloftes kom Ek altyd na.” Die Here hou by sy belofte en red sy volk uit Egipte en lei hulle 40 jaar lank deur die woestyn op pad na die beloofte land. In elke beproewing, nood of tekortkoming het die Here voorsien. Hy belowe ‘n Messias. Die Messias word geopenbaar in die person van “Jesus Christus”. In Christus word ons almal kinders van Abraham.  So het God sy beloftes waar gemaak. In ons elkeen se persoonlike lewe kan ons ook getuig van die vele kere wat God ons help in nood en ons daaglikse Vader is.

Daarom is God die beste antwoord op ons lewe, want Hy hou sy beloftes. Hoe anders sou die wêreld nie wees, as ons iets van God se getrouheid in beloftes, ook in ons eie lewe sou waarmaak nie.

pinky-promise_2

Met elke belofte wat ek nakom, maak ek die chaos in die samelewing minder. Met elke belofte wat ek verbreek maak ek die chaos en die pyn en die hartseer in die samelwing groter.

Dank god, dat Hy sy beloftes hou. Dit beteken redding, die nuwe lewe en die ewige lewe vir my. Uit my doop kan ek vreugdevol lewe, want sien God het belowe dat Hy my sal vashou en nooit sal los nie. Aan hierdie beloftes hang ek met my hele lewe.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s