‘n Wonderverhaal se vreugde word gesteel ……

‘n Wonderverhaal se vreugde word gesteel ……

Blydskap en vreugde is een van die kenmerke, merktekens van ware Christenwees.

Die befaamde Engelse professor en skrywer van London, CS Lewis was voorheen ‘n selferkende ateïs. Met sy talle doktersgrade en man van uitmuntendheid het hy drasties tot bekering gekom. Sy eerste bekende werk na sy bekering was “Surprised by Joy”. Die trant van sy skryfwerk het verander van sinies, somber en kwetsend na hoopvol, liefde, vreugde en vrede. Die bekende Nardia – werke het onder andere ook uit sy pen gevloei. Vir die eerste keer het Lewis vreugde geken en hy het miljoene grootmense en kinders se lewe aangeraak met sy nuwe styl van vreugde.

Die bekendste teoloog van ons tyd wat in lewe is, naamlik NT Whright het ook ‘n boek geskryf oor “ Surprised by Hope”. Weereens ‘n geleerde man wat in sy skryfwerk getuig van die blydskap wat Jesus Christus in mense se lewe bring.

Daar is ‘n verskil tussen vreugde en plesier. Vreugde is nooit binne ons eie gesag nie, plesier is wel. Vreugde is ‘n spirituele ervaring, maar plesier is ‘n liggaamlike ding. Vreugde is ‘n sielsding, wat niemand of selfs ook geen omstandighede van jou kan wegneem nie.

Plesier is iets van die liggaam. Kortstondig en gou verby. Plesier gaan oor eet, drink, koop, seksualiteit en dinge doen wat ‘n sensasie gee. Ons wêreld is volop plesier, maar arm aan vreugde.

Wat steel jou geluk en vreugde in die lewe? Miskien het dit tyd geword om jouself spiritueel te ondersoek?

80_jesus-heals-a-man-born-blind_1800x1200_72dpi_2In die wonderverhaal in ons gelese gedeelte van Joh 9: 1 – 41 van die genesing van die blindgebore man, veronderstel ons dat daar baie vreugde in die verhaal moet wees. Die skokkende is dat die verhaal arm is aan vreugde en blydskap oor die grootse – Wie steel die verhaal se vreugde en blydskap.

Die verhaal ontvou as volg. Jesus het terwyl hy gestap het, verby ‘n man gestap wat van sy geboorte af blind was. Onmiddelik vra die dissipels vir Jesus, wie se skuld is dit dat die man blind gebore is. Is dit sy skuld of sy ouers se skuld? Dit plaas natuurlik die hele teodisieë – vraagstuk van menslike lyding op die tafel. Jesus antwoord dadelik deur te sê dat dit nie die man of sy ouers se skuld is nie. Nee, dit is eerder dat God sy werke kan openbaar deur die man. Daarom mag ons nooit sommerweg skuld gaan soek as iemand ly nie. Natuurlik is sekere vorms van menslike lyding mensgemaak, soos die lyding van oorlog of as iemand in ‘n motorongeluk sterf as gevolg van dronkbestuur of hoë spoed. Dit is mensgemaakte lyding. Maar daar is ook ‘n groot dosis lyding in die wêreld wat nie verklaar kan word nie. Dink maar aan mense wat onskuldig ly of sterf aan kanker of as gevolg van ‘n ongeluk. Jesus gee die antwoord hierop: Sodat God se grootheid en genade in hulle lewe sigbaar kan word. Ons moet onthou dat die positiewe vermoë van mense om lyding te hanteer en te verwerk, ‘n preek opsigself is. Menslike lyding skryf preke en inspireer ander mense.

Dan verklaar Jesus dat hy die lig van die wêreld is. Daarom besluit Hy om hierdie man gesond te maak.

V.-Gilbert-and-Arlisle-F.-Beers-Pool-of-Siloam-Source-Visual-Bible-AliveJesus spoeg op die grond en smeer klei aan die man se oë en beveel hom om homself in die Siloambad te gaan bad. (Sien foto langsaan van die bad van Siloam) Die water kom vanaf die Gihonspruit, deur die tempelheuwel en verteenwoordig dus wat van God af kom. Daar staan dat die man presies gedoen het wat Jesus vir hom gesê het.

Vir die eerste keer in sy lewe kon die man sien. Wat ‘n vreugdevolle gebeurtenis!

Tog is die verhaal arm aan vreugde? Die toeskouers wonder of dit die regte man was wat blind gebore is. Maak iemand dalk nie êrens ‘n fout nie? Die dissipels worstel met die vraagstuk oor lyding, die Farisieërs is kwaad en soek fout omdat die man op ‘n Sabbatdag genees is. Die man se ouers ontwyk die vrae van die Farisieërs, omdat hulle vervolging vrees. Uiteindelik word die blindgebore man wat nou kan sien uit die sinagoge geban omdat hy die gesag van Jesus Christus erken het.

Die wonder verhaal se vreugde is gesteel? Gesteel deur die wettiese regulasies van die Farisieërs, wat wette belangriker ag as mense.

Vir die Farisieërs is wette belangrik. Vir Jesus is mense belangrik. Die Here beskou die Farisieërs as geestelik blind.

jesus-heals-blind-man_2Hulle spirituele blindheid staan lynreg teenoor die fisiese blindheid wat die man in die verhaal gehad het. Die Farisieërs het dit nodig om genees te word van hul geestelike blindheid om te onderskei wat werklik in die lewe belangrik is.

Dit is van belang dat Joh 9 opgevolg word deur Joh 10, wat handel oor die goeie Herder se vreugde oor sy skape. Nog voorbeelde van vreugde in die Bybel is talryk. Daar is ‘n deurlopende goue draad van vreugde wat deur die hele Bybel loop. Die vreugde van die vrou wat haar muntstuk verloor het. Die muntstuk het deel uitgemaak van haar halsnoer, wat haar man vir haar as bruidskap gegee het. Wanneer een van die talle muntstukke in die halsnoer ontbreek is die bruidskat onvolledig. Wanneer die vrou die verlore muntstuk vind is haar bruidskat weer volledig. Die Herder se vreugde oor die enkele verlore skaap wat gevind is. Die Vader wat bly is oor sy verlore seun, asook die skat in die saailand is almal gelykenisse wat handel oor God se vreugde as daar genesing en redding kom vir ‘n mensehart.

Die Farsisieërs gooi uit. Maar Jesus vind!

Ons kry Farisieërs binne en buite die kerk. Dit is mense wat loop en veroordeel, beskinder, fout vind en hulself beter ag as ander. Hulle wil mense uitsluit uit die lewe.

Die volgende moderne gelykenis het ek iewers gelees van ‘n anonieme bron. Die leermeester vra vir sy leerders: “Wanneer weet jy is dit dag en die nag is verby?” Die een leerder antwoord, dat wanneer jy ‘n skaaphond kan uitken van die skape is dit dag. Die leermeester sê dat hy mooi probeer het, maar hulle moet dieper soek vir die antwoord. Die tweede leerder antwoord, dat as jy ‘n palmboom en siprusboom van mekaar kan uitken is dit dag. Die leermeester sê hulle moet nog dieper soek vir die antwoord.

Hulle moet dit op spirituele vlak soek. Al die leerders het vorendag gekom met baie bespiegelinge. Uiteindelik antwoord die leermeester: “Wanneer ek in die oë van my medemens kyk en daarin my broer en suster as my naaste herken, het dit dag geword in my lewe!”

Vreugde wil altyd insluit en byvoeg. Jaloesie wil altyd uitsluit. Jaloesie is naywerig en gun nie die son oor ‘n ander se kop nie. Daar praat ons van die Evangelie as die Blye Tyding wat mense red, genees en insluit in God se genadeplan. Die duiwel is jaloers op God se goedheid en daarom is hy altyd besig om mense uit te sluit.

Die verhaal van die blindgebore man is sonder vreugde, omdat mense nie die hart van God verstaan nie. Mag jy ‘n mens wees wat kan bly wees oor ‘n ander se sukses, voorspoed en geluk. Mag jy ‘n slag jouself miskyk en sommer net bly wees wanneer iemand uitstyg in die lewe. Wanneer jy oor ander mense begin bly word en hulle vreugdes, jou vreugdes maak, ontvang jy ‘n vreemde geluk. Geluk wat uit die hemel aangesteek word.

AMEN

(Ds. Paul is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s