Word ‘n mens ‘n slaaf deur ander of deur jouself ?


Word ‘n mens ‘n slaaf deur ander of deur jouself ?

Slawerny is een van die donkerste dele van die menslike geskiedenis. Dit is om mense se vryheid te ontneem en hulle in te perk vir jou eie voordeel. Dit kom van Bybelse tyd en is vandag nog steeds net so aktueel. Met die afskaffing van wetgewing wat slawerny gereël het, het  die verskynsel nie opgehou bestaan nie. Dit het oorgegaan in die onderwêreld. Wêreldwyd word beweer dat slawerny nou erger is as ooit tevore.

images

Die bekendste vorm van slawerny is om mense te besit om vir jou gratis werk te doen. Jy kry seksuele slawerny waar vroue, mans en kinders verkoop word vir die ondergrondse sekshandel. Jy kry vandag ook nog vele vorme van kinderslawe wat in fabrieke werk. Goedkoop arbeid, handel in menslike organe, en mense wat finansieël uitgelewer is aan “loan sharks” is vandag moderne vorme van slawerny. Die dwelmhandel is ook ‘n vorm van slawerny, waar mense afhanklik gemaak word van dwelms om hulle vir altyd as kliënte te hê. Die bendegeweld in Mannenberg is alles vorme van slawerny. Wanneer mensegroepe deur wetgewing van hul vryheid beroof word is dit ook slawerny. Daarom dan Martin Luther King se beroemde toespraak : I have a dream ….

Oor slawerny kan mense baie ontkennend skynheilig wees. Van die vroomste mense, kan slawerny goedpraat of selfs beoefen en dink dit is hulle reg, om ander se vryheid te onderneem. Christenlande doen dit in die hoogty van slawehandel. Christenvolke met die Bybel onder hulle arm doen dit.

 Die duiwel is die een wat mense se vryheid wegneem en inperk. Hy het dit in Genesis met Adam en Eva gedoen, met Kain gedoen. Deur die eeue doen hy dit. Slawerny in al sy verskillende vorms – daarin het die duiwel ‘n aandeel.

 God maak mense vry. Daarom het Hy in Jesus Christus ons in Christus vry gemaak. Martin Luther skryf so met vuur: “Die Vryheid van een Christenmens ….. “

 Die hele Bybelse boodskap is ‘n verhaal van slawerny en vryheid. Jy vind dit letterlik op elke bladsy in die Bybel. In die Bybelse tyd het mense slawe geword as jy nie jou skuld kan betaal nie.

 Word ‘n mens ‘n slaaf deur ander of deur jouself ? Altwee moontlikhede bestaan. Ander kan jou verslaaf, maar jy kan jouself ook verslaaf ……

 Israel het homself verlaaf, daarom vra Jeremia die vraag in Vers 14: Het Israel ‘n slaaf geword of is hy ‘n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak?

 Die volk Israel is gebore as volk onder die slawerny van Egipte. Hulle was steenmakers vir die Farao’s oor geslagte heen. Hulle het ’n groot volk geword, maar ‘n volk sonder enige vryheid. Slawerny gee vir jou ‘n slegte selfbeeld. Later dink jy, jy verdien om so behandel te word (Amper soos mishandelde mense dink hulle verdien dit). Die slawevolk Israel, het ook ‘n voorafverhaal gehad. Jakob se broers het vir Josef mos verkoop as ‘n slaaf aan die slawehandelaars en toe beland hy as slaaf by Potifar. By Potifar, maak Potifar se vrou vir hom ‘n nog erger slaaf, naamlik om ‘n tronkvoël te word.

So is Israel in sy bestaan en voorafgeskienis ‘n slawevolk. Maar dan stuur God vir Moses, om sy volk uit slawerny te lei na die vryheid van die beloofte land. Vryheid kos iets. Dit het vir Israel gekos om 40 jaar deur die woestyn te trek. Maar in die beloofte land het hul gekom en ‘n nuwe vrye volk geword, met hul eie eerste nuwe koning Saul. Om nie te praat van Koning Dawid en Salomo nie. Die volk het hul eie konings, priesters en profete gehad. Hulle het hul eie hoofstad gehad, naamlik Jerusalem. Hulle het hul eie paleise en tempel en sinagoges gehad. Hulle was vry om wingerde te plant, veetroppe aan te hou en handel te dryf.

God se droom: I have a dream ….. het waargeword !

 Maar dan verloor die volk sy vryheid om die Babilonieërs. Babilon, die wêreldstad verower Jerusalem, die Godstad. Israel verloor alles, sy stad, sy tempel, sy wingerde, sy handel en sy vryheid. Israel het homself verslaaf, daarom vra Jeremia die vraag in Vers 14: Het Israel ‘n slaaf geword of is hy ‘n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? ‘n Mens kan net buitgemaak word, as jy voorheen vry was.

Israel was vry gewees, maar het deur hulle afvalligheid en sonde, weer slawe van die sonde en van die wêreld geword. Nie net die volk nie, maar alle gesagsinstansies het korrup geword. Die priesterlike, profetiese en koninklike huise het almal van God vergeet (vers 8): Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie.

 Israel het die geregtigheid, die barmhartigheid en die betroubaarheid van God vergeet. Dit weeg volgens God die swaarste in Mat 23: 23. Israel het ontrou geword. Israel het egbreuk gepleeg met God. God het as die minnaar na Israel uitgereik toe hulle nog maar ‘n slawevolkie was in Egipte. God het ‘n verhouding begin met Israel en vir Israel sy minnares ‘n huis opgesit in die beloofte land. Hulle het saam baie sakke sout opgeeët in die woestyn. Maar toe die beter dae kom, toe het Israel sy God vergeet. Kyk na Verse 6 – 7  Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur ‘n droë wêreld vol slote, deur ‘n dor land vol doodsgevaar, deur ‘n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

Ek het julle in ‘n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

  Amper iets soos die man wat met ‘n jongmeisie trou in sy studentejare. Hy het nie gewerk nie, maar voltyds gestudeer. Sy het die pot aan die kook gehou en baie opgeoffer. Toe kwalifiseer hy na lang jare van studie. Hy kry toe ‘n goeie werk en baie geld. Hy begin toe flirt met al wat meisie is en laat sy eggenote in die steek wat hom gehelp het. So voel God oor Israel. God het Israel bevry, maar Israel het haarself weer verslaaf. Israel het gehoereer agter ander gode aan. Daarom wil God begin met ‘n aanklag, ‘n skeisaak teen sy vol Israel in vers 9: Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

Dit het telkens in die geskiedenis gebeur met volke wat God verlaat. Dit is baie gevaarlik om enige volk enigsins te vergelyk met Israel. Die Afrikanervolk is geen spesiale of uitverkore volk nie. Tog is die patroon opvallend, wanneer enige volk God se trou verlaat.

Daar was ‘n tyd toe ons Afrikanervolk, ons volksgenote opgehef in die tyd van die arm blanke vraagstuk met die spoorweë, landbouprojekte soos Kakamas, studiefondse soos die Helpmekaar en skole soos die Tegniese en huishoudkunde skole op Adelaide en honderde ander plekke. Dit was die volk van sendingbussies en sendingskole en sendinghospitale en ons ‘n hart vir die sending onder alle mense gehad. Ons was ‘n volk bekend vir geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.In die 1940’s het ons God se trou begin vergeet. Die Afrikaner het geld gesien, mag gesien en elkeen het vir homself geleef. Ons het apartheid uitgedink en vergeet van geregtigheid / barmhartigheid en betroubaarheid. Die volk met die Bybel (Afrikaners), het gehoereer agter ander afgode aan. Die kerk, die staat, die volk en die leiers het verblind geword. Ons het die Jeremia’s van die opvolgende tye vergruisel soos die Jonkers, Johan Heyns en Beiers Naudé se foto is afgehaal van Loxton se konsistorie muur. Ons het heeltemal vergeet van die woestyntye soos die van Bloedrivier, die groot oorlog van 1899 – 1902 en die 1913 en 1933 depressie.

 So het dit ook met volke soos Duitsland gebeur in die 2de Wêreld Oorlog. Duitsland se konings, priesters en profete het God heeltemal verlaat en hulle Jeremia, Dietrich Bonhoëffer is doodgeskiet. Baie ander volkere het dieselfde pad gestap Dit gebeur tans ook met die ANC – regering. Die foute word oor en oor in die geskiedenis gemaak.

 Waar is God ? Ons het God dan uitgeskryf uit ons geskiedenis. Ons hoereer deur die dag met slegte prostitute, maar wil in die aand in die bed klim met jou vrou. Wanneer dit “dag” is, vergeet ons van God. Wanneer dit “nag” word in ons lewe wil ons God opsoek. God is geen tweedeklas minnaar nie. God is ‘n jaloerse God, wat sy eggenoot net vir homself wil hê.

Daarom sê Jeremia, maak ons die fatale fout: Dat ‘n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (vers 13)

So kom die skande in vers 26: Soos ‘n dief in die skande kom wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom: hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete. Hoe het ons as Afrikanervolk nie ook in die skande gekom nie.

Daar is net een antwoord BEKEER julle ! Hoofstukke 3 en 4 en die res van Jeremia is ‘n wekroep om terug te keer na God. Die boodskap van die hele Bybel is dat God vir ons, ons vryheid wil teruggee. Hy doen dit vir ons deur Jesus Christus. Daarom het Jesus Homself gevange laat neem deur die menslike natuur, sodat Hy ons kan verlos van die slawerny, waarin ons onsself gedwing het.

Ons moet ons ophou verslaaf en vry word. Ons moet die vryheid wat Christus gee, aangryp met ons hele lewe. I have a dream …… I have a vision …. I have a reality ……

Dikwels beperk ons, ons eie vryheid en groei soos bonsaiboompies. Ons beperk ons vryheid, soos wat ‘n bonsaiboompie net groei volgens die grootte van die bak waarin dit staan. Ons aanvaar die vryheid wat Christus vir ons gebring het net op sekere dele van ons lewe. Dit verhoed ons om “de vrijheid van een Christenmens”, soos wat Luther so vurig beskryf het in dié klassieke dokument deel van ons ganse bestaan te maak. Ons bly klein in die geloof, want ons gryp nie die vryheid in Christus aan nie. Die Here het vir ons meer in gedagte as wat ons ooit kan dink of besef.

  I have a dream …… I have a vision …. I have a reality …… !!!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s