WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..

WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..

Sonder hoop kan geen mens leef nie ! Elke mens het ‘n dringende behoefte om elke dag hoop te hê. Johan Cilliers verwys na “Die Wêreldburger” van 6 September 2002 na ‘n foto wat maklik sou kon kwalifiseer as foto van die eeu. Op die agtergrond sien jy die verwoesting van die Russiese tenks aan die Tjetjeense dorpie Goragorski aangerig het. Alles is platgeskiet in die skermutseling tussen die Russiese Weermag en die Tjetjeense separatiste. Maar dan op die voorgrond stap ‘n sewejarige dogtertjie en seuntjie hand aan hand vir hul eerste skooldag. Die gesiggies stralend van opwinding. Die dogterjie hou ‘n bos pink blomme van in haar hand. ‘n Skreiende kontras tussen hoop en wanhoop kan jy jou kwalik voorstel.

182572_380698105373516_197617355_n (1)

Ons het in Suid – Afrika nou dringend behoefte aan hoop. Daagliks hoor ‘n mens van moorde, verkragtings, plaasmoorde, nywerheidsonrus, grondeise, swak onderwystoestande, swak dienslewering en ‘n al grotenwordende afstand tussen ryk en arm. Korrupsie vier hoogty. Ons is in die hoek vas geverf. Dit voel of ons land vinniger sink as die Titanic. Ons is tussen die Duiwel en die diep blou see vasgevang. So was die Israeliete ook in die Ou Testamentise verhale – dikwels sonder hoop. In Eks 14: 1 – 31 lees ons van die hooplose situasie waarin die Israeliete hul bevind het. Hulle was in ‘n hoek vasgeverf tussen die Rooi See en die aankomende militêre mag van Farao. Hulle het net drie keuses gehad. Of hul verdrink, óf hul val in die swaard van die Egiptenare of hul gaan terug as slawe na Egipte. Die Israeliete kon nie bote bou nie, want hul het in die Egiptiese woestyn geen kennis opgedoen van die bou van die bote nie. Hulle kon hul ook nie verset teen die Egiptiese weermag nie, want hulle was slawe en is nie toegelaat om wapens te maak nie. Die Egiptiese strydwaens was in daardie tyd ook ‘n kragtige nuwe oorlogstuig, wat net soveel verskrikking veroorsaak het as vandag se moderne oorlogstanks. Dié situasie het baie sleg gelyk In vers 13 gee die Here egter vir die Israeliete ‘n versekering: ”Moenie beangs wees nie, staan vas, kyk hoe die Here jul vandag gaan red … “ Dan lees ons hoe die Here die wolkkolom gebied het om donkerte te gooi oor die Egiptenare en die vuurkokom gebruik het om lig te gooi vir die Israeliete. So het Hy voorkom dat die Egiptenare in die nag die Israeliete aangeval het. Want sien die Here het tyd nodig gehad om die Oostewind te gebied om heelnag te waai, sodat daar ‘n pad vir die Israeliete gemaak kan word deur die Rooi See. Dit is ‘n algemene natuurverskynsel, dat wanneer wind oor ‘n vlak meer of oseaan waai, dit mettertyd ‘n droë pad oopwaai. So het die volk deur die Rooi See getrek droogvoets.

Die Egiptenare het hul gevolg met rampspoedige gevolge. Bolangs was die grond droog gewees. maar vlak onder die droë grond was dit nat. Te nat vir ‘n strydwa. Die 600 strydwaens van die Egiptenare het die een na die andrer vasgeval in die modder. Soos hulle vasgeval het, het hulle wiele afgeruk en hulle het omgeslaan. Die een strydwa het teen die ander gebots. Totale verwarring. Die seë het begin terugstroom. In hulle paniek het die Egiptenare vir die eerste keer die Here van die Israeliete begin aanroep. Van aanbidders van Farao – het hulle skielik die krag van die Here erken. Die Egiptenare se lyke het orals uitgespeol gelê langs die see. Die Egiptenare sink terug in die oerchaos – die dood.

Die Egiptenare het hul eie ondergang veroorsaak. Farao het teen sy eie woord in, opdrag gegee dat die Israeliete gestuit moet word en terug gebring moet word na Egipte. Hulle het agtergekom hulle kan nie sonder die Israelietiese slawe regkom nie. Die onbetroubaarheid van Farao het sy ondergang bewerkstellig.

Wanneer ons land en sy mense dikwels voel, ons is ook in ‘n hoek vasgeverf hier aan die suidpunt van Afrika en dit voel ons is vasgekeer tussen die diep blou see en die duiwel, wil God ons kom verseker sy Currriculum Vitae vertel van sy magtige dade in die geskienis. Hy het Homself oor en oor bewys, dat hy paaie kan maak – waar geen paaie menslik moontlik is nie. Daarom kan ons nooit sonder hoop wees nie. Elke gelowige kan maar net terugdink aan sy / haar lewe en sal telkens herinner word aan die tye toe God die Rooi See van jou lewe vir jou oopgemaak het. Onthou wat God in die verlede gedoen het, Hy sal dit weer doen en kry hoop vir die toekoms !

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)

OM TOT SeëN TE WEES …

OM TOT SeëN TE WEES …

Onlangs stuur iemand vir my ‘n e-pos met ‘n  mooi  verhaal, vanuit die mielielande van die VSA. Dit gaan so. ‘n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou korset gewen op die streekbyeenkoms vir die beste mielieboer vir die streek. Elke jaar was sy gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld plat gereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry – te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ‘n dag vra ‘n joernalis van ‘n plaaslike koerant vir hom, hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het. Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ‘n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ‘n goeie oes verkry. Dit is in my belang, dat ek ook my bure moet seën, sodat ek ook geseën kan word.

564420_429245163798572_1369309555_nHoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander moet voerspoed  gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap ?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel op gelig tot ‘n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword, met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die tranformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ‘n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

GEWOONTES MAAK DIE MAN …

GEWOONTES MAAK DIE MAN …

Daar is niks so kragtig soos gewoontes nie. Gewoontes is niks ander as persoonlike dissipline nie.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal het verskillende verduidelikings: * Gevestigde neiging tot ‘n handeling, aangekweek deur herhaling van die handeling. * Gedragslyn wat deur herhaling ‘n vaste gebruik geword het. Daar is die Afrikaanse uitdrukking : “ Die gewente maak die gewoonte (gewente word gewoonte, gewoonte word gewente.)

Bring-Greater-Clarity-into-Your-Life-e1427952945807As ‘n mens iets aanhou doen word dit ‘n onwillekeurige handeling. Daarom is ‘n mens se gedrag geskoei op jou gewoontes. Daarom kan ‘n mens feitlik enigiets afleer en ook bykans enigiets aanleer. Daar is bevind as iemand vir ses weke aanhou om ‘n sekere gedrag te openbaar, dan word dit ‘n gewoonte. Eers is dit ‘n inspanning, later kom dit sonder moeite en sonder enige inspanning. Wanneer jy jou wekker stel om 5h00 en dadelik opstaan en dan gaan draf – sal dit maar in die begin moeilik gaan. Na ses weke word dit al hoe makliker en later is jy verslaaf aan die gebruik – dit het ‘n gewoonte geword.

Daarom gaan die vestiging van goeie gewoontes altyd gepaard met ‘n KEUSE. Natuurlik saam met die KEUSE, moet daar ook VOLHARDING en DEURSETTINGSVERMOë openbaar word.

Die volgende wysgere het hul as volg oor GEWOONTES uitgelaat:

“ Kies vandag die gewoonte wat later oor jou gaan regeer.” (Elbert Hubbard 1856 – 1915)

“’n Gevestigde gewoonte is ‘n hemp gemaak van yster.” (Samuel Johnson 1709 – 1786)

“Die jammerte is dat goeie gewoontes soveel makliker is om te breek as die slegtes.” (W Somerset Maugham (1874 – 1965)

Om lui te wees, om slordig te wees, om papiere rond te strooi, om kwaad te praat, om slegte dinge te doen is alles gewoontes. Maar deur die krag van die Heilige Gees en deur ‘n hartgrondige bekering kan ek omdraai en deur KEUSES verander word en deur die volharding wat die Heilige Gees skenk, kan ek nuwe gewoontes aanleer. In die proses word ek ‘n nuwe mens met nuwe gewoontes van selfbeheersing.

Daar is niks soos die krag van selfbeheersing nie. Dit is soos ‘n damwal. Die water word beheer. Dit word ‘n beheerste aksie. Dit hou ‘n dam vol water. Water gee lewe en krag. Kragstasies kan gebou word by damwalle. Daarom is selfbeheersing in wat ek sê, dink en doen seker die kragtigste gewoonte wat ek kan aanleer.

“Wees versigtig wat jy dink, dit word jou woorde. Wees versigtig wat jy sê, dit word jou aksies. Wees versigtig wat jy doen, dit word jou gewoonte. Wees versigtig met jou gewoontes, dit bou jou karakter.” (Frank Outlaw)

Mag die Here ons leer van “selfbeheersing”. Mag dit ‘n gewoonte word in ons lewe. Dan is ons manne en vroue van karakter. Dan is ons geseënd met die krag van selfbeheersing. Dan is ons ‘n krag in onsself.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

 

Die drie gode van ons tyd …

Die drie gode van ons tyd …

Richard Foster het ‘n boek geskryf met die titel: “Sex, money and power”. In die baie populêre boek word seks, geld en mag uitgesonder as die drie grootste gode van ons tyd. Dit is die goed  wat mense dryf en waarvoor mense leef. Natuurlik is nie een van die drie verkeerd nie. Inteendeel as dit gedryf word deur liefde en verantwoordelikheid is dit opsigself drie wonderlike dinge waardeur God se Koninkryk kan kom. Maar ongelukkig leer die geskiedenis dat die mens hom telkens vergryp hieraan. ‘n Mens kan maar net die koerante deurblaai. In elke negatiewe beriggewing sal jy ten minste een van die moderne gode raaklees. Of mense vergryp hulself aan seksuele sonde, of aan geld of aan magmisbruik.

worshipseries_money-sex-power_rcc-1024x614Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.

Die koerante is vol van seksuele misgrype – wat eindelose pyn en emosionele seer veroorsaak – omdat mense die wonderskone gawe van seksualiteit misbruik tot persoonlike bevrediging van eie drange, wat nie gemik is daarop om jou lewensmaat se vrouwees en manwees te dien nie. Dit word verontmenslik tot bare dierlike instinkte (waar daar van skoonheid nie veel oorbly nie). Mense word ontrou, omdat die gras altyd groener aan die ander kant lyk.

Van finansiële vergrype lees ons elke dag. Diefstal, salarisse wat buite verhouding is, uitbuiting van werknemers, omkopery, onredelike winsgrense, loansharks en selfverryking is aan die orde van die dag. Iets van die “fat cat” en die soustrein – sindroom eet ons ekonomie op en neem die brood uit die armes se mond.

Van magmisbruik hoor ons elke dag in die politiek, sakewêreld, in die polisie en sommer ook in die “daaglikse politiek” tussen mense en in organisasies. Baantjies vir boeties, krap my rug – dan krap ek jou rug, tot  die blou lig bendes. Die blou lig bendes is die ergste. Sommige minister van ‘n provinsiale departement jaag met ‘n konvooi van voertuie, met blou ligte en sirenes van een funksie na die volgende partytjie – in die waan dat hy / sy vreeslik belangrik is. Klein godjies wat tog asseblief raakgesien moet word ! Die duurste voertuie en ontwerpersklere moet die beeld van belangrik poets tot sinlose ydelheid. Van eenvoud en nederigheid is daar geen sprake. Blink voertuie in plakkerskamp – woonbuurte skreeu ten hemel vir hul wat smag na ‘n deel van die ekonomiese koek, om net te oorleef van vandag se honger en uitsigloosheid.Power corrupts; absolute power corrupts absolutely” het John Emerich Edward Dalberg Acton, first Baron Acton(1834–1902) opgemerk. Abraham Lincoln het gesê: “You may fool all the people some of the time; you can even fool some of the people all the time; but you can’t fool all of the people all the time.” Uiteindelik haal die waarheid ook die politici in.

Wanneer seks, geld en mag misbruik word –  word mense van hul menslikheid beroof. Wanneer jy verontmenslik is, dan word die lewe sinloos en leeg en sonder enige betekenis. Wanneer mense beroof word van menslikheid vervaag alle HOOP.

Daarom word Christene opgeroep om seks, geld en mag in ‘n ander lig te sien. Die seksuele geskapenheid van die mens, die finansiële seëninge van die Here en die verantwoordelikheid van mag – moet gerig en gefokus wees om DIENSBAAR te wees. Dit moet nie gerig wees op die “self” nie, maar op die “ander”. Seks, geld en mag – gaan altyd gepaard met uiterste VERANTWOORDELIKHEID. Dan kom daar sin en betekenis en tonne seën in jou lewe. Dan word jou lewe ‘n seën vir ander.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

527811_379128178830333_591703830_nDie vrouehumoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ‘n vriendelike kind gesit, wat vir almal rondom hom geglimlag het . Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie – al wat hy gedoen het was om vir almal te glimlag, Na ‘n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, so dat almal rondom hul dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ‘n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ‘n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar ander sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld.” (1) Johan Cilliers: Het God ‘n handvatsel ? (2003)

Die Here Jesus Christus het gekom om vreugde te bring. Sy eerste wonderteken was toe Hy water in wyn verander het op die bruilof te Kana. In die antieke tyd het die lengte van ‘n huwelik gewissel. Dit het oor dae plaasgevind. As die wyn opraak, het dit beteken die bruilof is nou verby en almal moes huis toe gaan. Met die bruilofsfees in Kana, was die opraak van die wyn ‘n groot verleentheid – die vreugde moet nou kort geknip word. Dan verander die Here Jesus die verleentheid in ‘n geleentheid, hy bring nuwe vreugde in die bruilofsfees. Hy laat die bruilofsfees voortgaan. Inteendeel die vreugde is groter, want die wyn is beter ! Juis daarom wil Jesus die “alledaagse” soos water verander in iets beter. Natuurlik is die wonderverhaal ook ‘n vooruit verkondiging van Jesus Christus se tweede koms (die groot bruilofsfees waarvan Openbaring praat).

Die punt is egter, dat Christus Jesus gekom het om vreugde en blydskap en dankbaarheid in oorvloed te bring. En God wil hê om moet deel daarin hê. Daarom is godsdiens en die lewe nie ‘n klomp strak gesigte soos in die verlede tyd toe mense nie geglimlag het op fotos nie. Vyftig jaar gelede was dit ‘n “sonde” om te glimlag op ‘n foto of selfs in die kerk. Deesdae hou ons van natuurlike fotos met lewensaksie. “Freezing moments” wat vertel van menslike emosie. Emosies het deel geword van briljante fotografie.

Daarom is blydskap, dankbaarheid en vreugde iets wat aangeleer word. Dit kom nie vanself nie. Dit is ‘n gawe van die Gees. Sommige mense het die dapperheid om selfs in die moeilikste omstandighede hul dankbaarheid vir die lewe en hul innerlike lewensvreugde te lééf. Victor Frankl vertel in sy boek “Search for Meaning” hoe hy in die Duitse konsentrasiekamp van Auscwitz vreugde gevind het in ‘n enkele veldblom wat uit die digte sneeu uitgebeur het na die sonlig. Of van sy vreugde tydens koue winteraaande as dit sy beurt was om die donkie deur die nag te stook vir warm water vir die Duitse soldate die volgende oggend. Hoe hy mielies gesteel het en dit oor die kole gaargemaak het en op ‘n bondeltjie voor die vuur gelê het en die saligheid van die enkele ure van die nag geniet het, voor die wreedheid van die volgende dag weer aanbreek.

Hoe skaarser iets word, hoe meer waardeer jy dit ! Dalk het ons te veel, om werklik die klein goedjies van die lewe te waardeer.

Selfbejammering is van die duiwel. Dit is ons menslike natuur om ons te vergelyk met wat ander het en ons nie het nie. Ons koop dikwels goed om ander mense te beïndruk, eerder as om iets te koop wat ons werklik nodig het. Ons kan onsself maklik jammer kry en dan leef uit ‘n “slagoffermentaliteit”, van die wêreld en ander en selfs God skuld ons iets. So word ons die patetiese klakouse wat gedurig aan ons eie behoeftes dink. In die post – apartheid era kan die verskillende bevolkingsgroepe van ons land, bruin, wit en swart maklik leef uit die “slagoffermentaliteit”, van êrens is ek benadeel. Of apartheid, of regstellende aksie kan die fort word, waarin ons uit selfbejammering ons wonde lek. Wie uit selfbejammering leef, sal nooit ‘n leier kan word, wat die “maatskappy” kan verander nie.  Eers wanneer jy jouself uit die ellende kan lig en kan opstaan – kan jy ander inspireer tot verandering en ‘n nuwe  vreugde en dankbaarheid vir die lewe.

Vreugde en dankbaarheid is ‘n KEUSE. Dit is nie ‘n toestand in positiewe tye nie. Dit is ‘n KEUSE, selfs in die moeilikste lewensomstandighede.

  (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)