Kyk gelowig en volhardend, hemelwaarts ………

Kyk gelowig en volhardend, hemelwaarts ………

Volharding is ‘n geestelike deug. Dit is nie maar net ‘n saak van begin en los nie. Dit vra moed en deursettingsvermoë om aan te hou. Daarom gebruik die Hebreërskrywer die beeld van die marathon, want dit vra uithouvermoë.

As ‘n mens die stad Rome wil sien vanuit die koepel van die St. Peters, moet jy al die trappe na die koepel klim. As jy net halfpad geklim het, is dit so goed jy het niks geklim nie. Die laaste trappie is net so belangrik soos die eerste. Eers as jy die volle stel trappe geklim het, ook die laastes kom jy by die koepel uit en dan kan jy die hele stad Rome voor jou sien, met ‘n asemrowende uitsig.

28887_159259764224304_259829234_nDie doel van die Hebreërskrywer is om gelowiges wat reeds glo, te help om hul geloof te behou en dit inderdaad te versterk. Baie dinge kan maak dat ‘n mens moeg en afgemat raak in jou geloofslewe. Dan kan ‘n mens maklik terug verlang na die eerste dinge. Die volk Israel het op hul geloofsreis van 40 jaar deur die woestyn dikwels terug verlang na die vleispotte en sekerhede van Egipteland. As’t ware het hul terug verlang na die sekerhede van slawerny. Hulle is eerder slawe as om vry te wees in ‘n woestyn vol onsekerhede, agter geloofsgoedere wat nie met die oog gesien kan word nie. Hulle het as’t ware verlang na die eerste dinge.

Dikwels verlang mense ook terug na die verlede, die ou Suid – Afrika met al sy sekerhede en sekuriteite. Maar in die proses vergeet ons van al die onreg waarop die ou stelsel gebou was. Ons wil as’t ware terugkeer na die slawerny van apartheid, omdat ons die beter en regverdiger tye miskyk.

Hebreër 12: 18 – 29 gaan oor twee tye: Die Sinaï – tye en Sionstye. Die berg Sinaï staan vir die vorige bedeling en Sionsberg staan vir nuwe bedeling. Daarom staan die twee berge as twee metafore teenoor mekaar. Elke berg verteenwoordig ‘n tydperk en ‘n bepaalde teologie. Die een staan vir die oue en die ander vir die nuwe.

Die berg Sinaï staan vir skeiding. God en sy volk Israel was geskei. Slegs Moses kon die berg bestyg om die Wet te ontvang. Verder was die berg heeltemal verbode vir enige mens of dier. Niks mag aan die berg raak nie. Daarom word sewe beelde gebruik om die ontoeganklikheid van die berg te beskryf, naamlik: vuur, swart wolke, duisternis, stormwind, harde geluid en geklank van woorde

Moses self het gesidder van vrees. God was vêr gewees. God was verhewe gewees op die Sinaï berg, geskei van sy volk. Daarom staan die Sinaï – berg vir die Wet.

Die Sionsberg daarteenoor, beteken die berg waar God naby aan mense gekom het. Dit was die berg waar Abraham sy seun Isak moes offer.

Die Here het toe betyds voorsien deur ‘n skaapram wat vasgemaak was aan ‘n bos. Daarom is die Sionsberg tradisioneel die berg waar die Messias Hom sou openbaar volgens tradisie Ps 2:6. Sionsberg beteken God bly tussen sy mense en dit wys heen na die menswording van Jesus Christus. God het in Christus Jesus baie naby aan die mens gekom.

Daarom staan Sion – staan vir die genade.

Weereens word sewe beelde gebruik in die teks om die heerlikheid van die Sionsberg te besing.

Vanaf die Sionsberg, kom jy die Sionstad, Jerusalem duidelik sien. Sionstad, is die stad waar God bly en dit versinnebeeld die nuwe Jerusalem wat kom. Jerusalem skyn inderdaad werklik goudkleurig in die laatmiddag son.

Sinaï – berg beteken God is vêr, terwyl Sionsberg beteken die Here het naby gekom. Ons mag die Sionstad – die nuwe Jerusalem nader – sonder om te vrees, want Jesus het die pad oopgemaak vir my. Wanneer ek sterf is ek in die stad.

Ons kan maklik laks word in die geloof, ons geloofsvisie verloor en ons geloofswaardes prysgee. Daarom word van ons wat op die Sionsberg woon, baie meer gevra as hul wat op Sinaï berg leef. Ons het die verlossing gesien. Juis daarom moet ons tot die einde volhard. Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan om nie langs die pad, die pad byster te raak nie. Die meeste ongelukkige gebeur 10 km van jou bestemming. Mense raak ontspanne en hul begin aan die tuiskoms dink en verslap hul inspanning. Netso moet ons nie op die geloofspad om geloofsinspanning verslap nie.

Die Hebreër skrywer stel die Sionservaring oor die Sinaï-ervaring. Die genade-ervaring is groter as die wet – ervaring. Meer as 13 keer word die griekse woord “kreiton” gebruik, wat beteken dit is “beter”. Dit is beter om die nuwe as die ou aan te hang. Dit is beter om in Christus te wees as in die sonde Dit gaan nou beter met julle : op pad na beloofde land / op pad na beloofde stad. Julle omstandighede is beter. Julle toekoms is beter. Julle stad is beter. Julle fondament is beter. Julle toegang is beter.

Die Hebreërskrywer sê met Sinaï het die aarde geskud, maar met die Sionsberg sal die hemel en aarde skud. Daarom moet ons nie die genade verwerp nie.

Christopher Columbus (31 Oktober 1451 – 20 Mei 1506) was die ontdekkingsreisiger wat die Amerikas aan ons bekend gestel het.

Met sy drie skepe, die Pinta, die Nina en die Santa Maria het hy die Bahamas ontdek en later ook die Amerikaanse vasteland, waar hy die die Indiane ontmoet het. Hierdie ontdekkingsreise van hom het baie geloof en moed en volharding gevra in ‘n Katolieke tradisie waar daar nog geglo is die wêreld is plat. Tenspyte van moeilike omstandighede, siektes en sterftes op die skepe, asook bemanningslede wat wou muit het

Columbus het net elke oggend gesê: Weswaarts sal ons trek. Gister het ons wesswaarts getrek, vandag trek ons ook weswaarts, weswaarts is die rigting….. Sy volharding het hom gebring by die Amerikas. Hy het die nuwe wêreld ontdek en na ons gebring.

In ‘n modernistiese wêreld waar die klem net lê op die sienlike wêreld, word die geloofsmoed van Columbus ook van ons gevra om die God se nuwe wêreld” te ontmoet. Elke dag moet ons ook gelowig verklaar, dat ons hemelwaarts trek, ja hemelwaarts. Daarom praat Hebreërs van die beloofde vaderland waarheen ons trek. Hierdie oppad wees na die onsienlike maak ons die objek van bespotting soos Noag in die bou van die ark, asook die vroeë Christene in ‘n Grieksoorheersende wêreld waar die sienlike gode uitgestal was op elke markplein.

Die Hebreërskrywer wil ons geloofsoog verskerp, om met die oë van ‘n arend dit te sien, wat ander mense nie kan sien nie.

Geloofsvolharding, is iets waarvoor ons elke dag moet bid. Elke dag moet ons die werke van God soek in die dinge rondom ons. Somtyds sal ons God vind in grootse gebeure of ervarings. Ander tye sal ons Hom vind in klein gebeure of ervarings. Die onsienlike God, is altyd sienlik in die alledaagse gebeure rondom ons. Daarom moet ons bid vir geloofsoë wat helder kan sien.

Somtyds sien ons God eers agterna:

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy fotos ontwikkel, toe sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy fotos. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe.

Moenie dink dat jy altyd reg sien nie ! Geloof is om te leer om “te sien.” Om met geloof te sien, vra oefening. Mag die Here vir ons elke dag nuwe oë gee, om nuut te sien. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s