Geloof is om die onsienlike te sien.

Geloof is om die onsienlike te sien.

Die boek Hebreërs handel oor geloof. Die skrywer se bedoeling is nie om mense te laat glo nie, maar om mense wat reeds in die geloof is, te help om in die geloof te bly. Want sien geloof kan maklik verweer word – soos skokbrekers van ‘n voertuig wat verweer op grondpaaie. Geloof is iets lewendig: Daarom kan dit groei of sterf. (Dit is soos ‘n verhouding.) ‘n Mens kan so gewoond raak aan die Christelike geloof, dat jy later begin neutraal staan. Dan is dit nodig om weer jou geloof te versterk. Tereg moedig Paulus in 2 Tim 1: 6 vir Timotheus aan om “die geloof weer soos ‘n vuur aan te blaas.”

12651380_956490731107349_9017840028981312380_n

Wanneer die Hebreër – skrywer sy brief skrywe, skryf hy aan gelowiges wat nie net traag (6: 12) geword nie, maar ook later afvallig (6:6) geword het en ook nie meer kerk toe kom nie (10: 25). Die vroeë Christene het vervolging ervaar en baie skokke ervaar, wat hulle geloof begin deurstamp het. Hulle geloof het as’t ware begin gly en hulle het apaties geraak. Dikwels gebeur dit dat gelowiges in hulle vroeë tienerjare geestelik baie aktief was en besondere geloofservaringe op geestelike kampe gehad het. Dit kan gebeur dat in latere volwassenheid jy in jou geloof lou raak, as gevolg van al die eise van volwassenheid.

Daarom beskryf die Hebreër skrywer die geestelike lewe soos ‘n marathon wedloop of ‘n pelgrimstog. Dit is veeleisend en vermoeiend. Jy moet VASBYT en altyd jou einddoel voor oë hou.

Jy moet jou aandag gedurig op Jesus Christus hou: die Begin en Voleinder van jou geloof. Dikwels kan ons, ons geloofsfokus verloor. Coenie Burger vertel toe hy in Amerika op reis was, tydens ‘n sneeustorm, hy so op die sneeu konsentreer het, dat hy al stadiger begin ry het. Die ander voertuie het verby hom geflits. Eers toe hy geleer het om eerder op die pad as die sneeu te konsentreer, kon hy weer vinnger ry. Aanvanklik het die sneeu hom paniekbevange gemaak. Hy het nodig gehad om sy fokus weer te herwin op die pad. So moet ons ook gedurig ons geloofsfokus op Jesus Christus herwin. Dit is soos ‘n akrobaat wat oor ‘n staaldraad loop. Hy konsentreer op die einde van die kabel. Hy kyk nie agtertoe of ondertoe nie. Nee, hy hou die oog op die eindpunt, daar waar die rooi lint vas is. Sy fokuspunt gee vir hom balans.

Wat is geloof ? Vers 1 begin ῎Εστι δὲ πίστις” Geloof is dan …

So begin ‘n definisie. Geloof is dan om seker te wees, wat ons hoop, om oortuig te wees, wat ons nie sien …… “. Geloof is die viering van die objektiewe werklikheid. Nie jou subjektiewe geloof nie, maar die objek van jou geloof staan vas. Jy kan maar twyfel aan jou geloof se sterkte, moet net nie aan Christus twyfel nie. Dit gaan met ander woorde nie oor die subjek van jou geloof (ekself) nie, ook nie oor die werkwoord “geloof” nie, maar oor die objek, dié EEN in wie jy jou geloof stel.

  Modernisme meet en evalueer alles in terme van wat gesien kan word. Maar ons moet onthou die sienlike is slegs ‘n enkele dimensie. Agter die sienlike is daar ook die onsienlike as nog ‘n ander dimensie. Baie dinge kan ons nie met die blote oog sien nie, maar dit is beslis daar. Niemand sal ontken dat daar radiogolwe, televisiegolwe en selfoonseine is nie. Tog kan ‘n mens dit nie met die blote oog sien nie.

‘n Foto kan maklik bedrieg in 1 dimensie. Somtyds moet ‘n mens dieper en langer kyk. Bestudeer byvoorbeeld die meegaande foto. As ‘n mens kyk sien jy die man se linkersykant. As jy ‘n bietjie langer kyk, dan kry jy ‘n vooraansig van die man. Dit hang af hoe diep jy kyk. Agter die sienlike is die onsienlike

Is jou huis nog daar waar jy dit vanoggend gelos het ? –Jy kan dit mos nie nou sien nie – maar jy vertrou jou vorige ervarings.

Sienlike dinge is een dimensionele geloof. Ons sig is beperk. Ons kan nie eers baie ver voor ons uitsien nie. Onsienlike dinge is driedimensionele geloof. In die 3D films het jy ‘n spesiale bril nodig om die film te sien. So is geloof ‘n “bril” wat jou instaat stel om die onsienlike te sien.

Die Hebreër skrywer sit as’t ware vir ons 3 D – geloofsbrille op. Vanuit die getuienis van Abel, Henog, Noag en Abraham sien ons die onsienlike God besig om te werk in die geskiedenis. Die geloofshelde stel as’t ware ons geloofsoë in soos wat ‘n mens ‘n verkyker instel.

 Ons is kinders van Abraham. Hy is die vader van geloof. Ons moet self ook soos ons geloofsvader Abraham geloofsmense word. Abraham het uit Ur van die Chaldeërs getrek en nie geweet waar hy sal uitkom nie. Hy was sy lewe lank ‘n tentbewonder op reis na die onsienlike. Hy het ook gesterf sonder om die sienlike te bereik in sy aardse lewe. Hy kon enige dag kies om terug te keer na die sienlike land van Ur van die Chaldeërs, maar hy het verkies om op reis te wees na die onsienlike belofte. Hy het nie geweet waar hy sou uitkom nie, maar hy het uitgesien na die stad van vaste fondamente. Daarom beskryf hy homself as ‘n vreemdeling en bywoner, op pad na ‘n beter vaderland.

As ek moet kies tussen die sienlike en onsienlike, kies ek verreweg die onsienlike !

Wie die sienlike verkies, moet kies om te vrek soos ‘n dier. Wie die onsienlike verkies, kies om te leef en te sterwe soos ‘n gelowige. Beslis kies ek laasgenoemde. Maar dit vra volharding. 

Karl Bath sê HOOP is om môre se musiek reeds vandag te hoor. GELOOF is om op die maat van daardie musiek te dans.

Wanneer Martin Luther oor geloof skryf, sê hy daar is twee soorte geloof:

Geloof omtrent  God  ………….. sekere kennis van God

Geloof in God ……………………… dat ek my volle vertroue in Hom plaas

Om te glo is, om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Swart koei eet groen gras, en gee wit melk, waarvan ons geel botter maak. Ek verstaan nie die chemiese werking, maar ek geniet die botter op my brood. Ek sien oor die TV die rugbywedstryd, maar kan nie sien hoe die sein of satelliet werk nie – maar ek gooi nie die TV by die venster uit nie. Neil Armstrong het op die maan geland. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit vul my met verwondering. Ek was ‘n klein seuntjie toe die eerste mens op die maan geland het. Toe ek dit gehoor het oor die radio, het ek buitentoe gegaan en probeer om die man op die maan te sien. Nodeloos. Ek het hom nie gesien nie. Tog neem dit niks weg van die wetenskaplike feit dat daar ‘n man op die maan geland het.

Die wetenskap fakulteite aan Universiteite is altyd besig om die onsienlike, sienbaar te maak. Wat onbekend is, bekend te maak. Dit is ‘n nimmereindigende soektog, wat fasinerend is, want ons ken en sien nog so min.

Gelowig wees, beteken om die onsienbare te leef, met ‘n lewende hoop !

Geloof het ‘n besliste fondament , skryf Martin Luther: Ek het by venster uitgekyk en die sterrekoepel gesien, tog het ek nie ‘n sigbare pilaar gesien wat die uitspansel ondersteun nie. Vervolgens het ek ‘n groot wolk gesien wat met ‘n groot gewig in die lug gehang het, tog het ek geen fondament gesien waarop dit rus nie, dit het vlugtig gegroet en verby gevaar. So kry jy altyd mense wat na pilare en fondamente soek om  hul vrees en bewing te stil, asof hulle hemel in duie gaan stort. Hulle besef nie daar is ‘n ondersteunende fondament – hulle geloof !

Ons kan nie eers na die son kyk met ons blote kaal oë nie. Hoe kan ons dan nog na die Skepper van die vuurrooi son kyk? Daarom het niemand God nog gesien nie. Selfs aan sy dienaar Moses het Hy verskyn in die woestyn in ‘n brandende braambos, wat nie uitgebrand het nie. Moses kon maar net sy skoene uittrek vir Jahweh. God het ook nie Moses se vraag, beantwoord : Wie is u ? Al wat God gesê het HY IS WAT HY IS. God laat hom nie verstaanbaar, kenbaar of sienbaar maak deur die definisies en proefbuise en mikroskopiese lense van mense nie. Die Skepper kan tog nie objek word van sy subjeks nie. Paulus is met blindheid geslaan toe die Here aan Hom verskyn het op die pad van Damaskus. Daar in sy blindheid het hy eers vir God gesien. Slegs in die menswording van Jesus Christus het ons ‘n blik gekry op op die Seun van God. In Sy Godheid het ons Jesus ook nog nie gesien nie. Die Vader werk agter die skerms, die Seun verskyn gedeeltelik in sy mensheid en die Gees werk soos die wind. Jy hoor die wind en sien wat die wind doen, maar jy kan self nie die wind sien nie. Daarom is die vleesgeworde Seun van God in sy mensheid vir ons herkenbaar in ons eie taal en kultuur, maar in sy Godheid vir ons versluier, sodat ons nooit ‘n te vaste greep op God kan kry nie.

Seker een van die mooiste beelde om geloof te verduidelik is die van die blinde seun – wat dit geniet om met sy sienende maats vlieër te speel. ‘n Verbyganger wou met hom gekskeer: Waar is jou vlieër? Jy weet nie of dit in die lug is en of dit op die grond is nie.” Hy antwoord: “O ja, dit is ‘n hele ent die lug in op.”

Hoe weet jy dit, jy kan dan nie sien nie ?” Die blinde seun antwoord: “ Nee, dit is waar ek kan dit nie sien nie, maar ek kan dit voel aan die trek van die lyne ……”

So kan ons die onsienlike God ook nie sien met ons kaal oë nie. Tog ervaar en beleef ons God in ons persoonlike lewens en in die getuienisse van ander mense. Ons voel hoe Hy aan ons lewenslyne trek. Dit is ‘n baie persoonlike en intieme ervaring. Ons hoor ook van hoe ander mense getuig van hoe God aan hulle lewenslyne trek. Die boek Hebreërs gee vir ons ‘n lang lys van mense, geloofshelde se getuienisse van hoe hul God beleef.

Geloof is nie iets doods, wat in ‘n museum tuishoort nie. Nee, dit is ‘n lewende persoonlike verhouding met die lewende God. Dit is om God te sien in die onsienlike en sienlike dinge. Dit is om God te beleef in persoonlike ervarings en in gedeelde ervarings van geloofshelde in die kanon van die Bybel, asook in die moderne tyd. Geloof is om dieper te kyk, met ‘n beter perspektief. Ja, om God te sien in die onsienlike.

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy fotos ontwikkel, toe sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy fotos. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe.

Moenie dink dat jy altyd reg sien nie ! Geloof is om te leer om “te sien.” AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s