Seisoene in my geestelike lewe …


SEISOENE IN MY GEESTELIKE LEWE

185087_445487685501938_1468018195_n (1)Ons kan maklik verstrik raak in ‘n voorspoedsteologie, waar ons dink dat alles in die Christelike geloof gaan om “JOY”. Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon, waar ons op ‘n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde en vrede en voorspoed. Dan gebeur daar somtyds traumatiese goed in jou lewe en jy voel gestroop van die “JOY”. Dikwels vra ‘n mens dan die vraag, maar waar is God nou?

Riaan van der Merwe verduidelik, dat ‘n mens eerder moet praat van die 4 geestelike seisoene in jou lewe. Elke mens ervaar geestelike lentes, somers, herfs en winters. Elkeen van die geestelike seisoene is baie nodig vir jou geestelike lewe. Ons kry nie net somervrugte soos perskes en appelkose nie, maar ook wintersvrugte soos lemoene en nartjies.

Vir die lemoene en nartjies om ryp te word is dit nodig om winter te word. So gaan ons ook deur verskillende fases in ons geestelike lewe.

Somtyds voel ons baie naby aan God en ander tye voel ons weer vêr van God. Somtyds voel ons Godverlate soos die Psalmdigter Dawid dit in sommige van sy Psalms uitdruk. Prediker praat selfs in sy boek, dat daar ‘n tyd is vir alles. Juis daarom moet ons elke tyd en seisoen in ons lewe ontvang as geskenke van die Here en elke seisoen beskou as ‘n leerkurwe in ons lewe.

Soos wat ‘n skoenlapper deur verskillende fases in sy lewe gaan, van ‘n eier, ‘n wurm, ‘n papie en uitendelik ‘n skoenlapper word – gaan ons ook deur verskillende lewensfases is ons lewe. Elkeen van die fases of groeiseisoene is belangrik.

Somtyds het ‘n mens ‘n wintertydperk of ‘n stuk gewondheid nodig om jou in te lei in ‘n dieper vlak van geestelikheid. Wintertye van vertwyfeling en hooploosheid is juis die tye wat ons gestroop word van ons eie selfversekering, sodat ons net aan God kan vashou met ons hele lewe. Jy word dan ook jou ware self: “Nothing is more important, for if we find our true self, we find God, and if we find God, we find our most authentic self” (David Benner).

Vergelyk jou eie lewe met ‘n boom. Die Bybel praat op baie plekke van bome. Die bekende Ps 1 praat van die regverdige wat  soos ‘n boom is wat by waterstrome geplant is. ‘n Boom lyk nie heeljaar dieselfde nie. In die lente, somer, herfs en winter verander die boom gedurig van gedaante. So ook wissel ons geestelike lewe voor God. Tog is elke fase goed en nodig. In elke fase vind daar groei en rus plaas.

Daarom moet ons nie ons geloofsekerheid koppel aan ons eie emosionele belewenis nie. God staan vas en seker. Al wat ek moet doen, is om soos Andrew Murray gesê het myself oor te gee aan God in elke seisoen van my lewe, wagtend dat Hy sy heilryke werk in my lewe sal doen.

Daarom moet ek in elke seisoen van my lewe nuuskierig wees, wat God in my lewe wil bewerk of wil doen. Ek moet my geestelike lewe voor God as ‘n wonderlike reis beskou. Telkens sal ek verstom staan oor hoe God in en deur my werk.

Ons lewe is soos die boomringe van ‘n boom. Daar is dik en dun jaarringe. Daar is tye van oorvloed en skaarste, tye van voorspoed en droogte. Ja, daar sal ook tekens wees van brand en waar takke afgeskeur of afgesny is. Maar al die kenmerke van die boom, maak die boom uniek. So is ons elkeen ook bome wat uniek gevorm is deur die seisoene van ons lewe. Geen boom lyk soos ‘n ander een nie.

So lyk elke mens se lewe anders as die van ander. Ons is verskillend gevorm deur die seisoene van ons lewe. Koester jou lewensboom. Koester die merktekens van jou wonde. Dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

3 thoughts on “Seisoene in my geestelike lewe …

  1. Elizabeth Lombard 2017/06/15 / 20:45

    Mag God ons verryk in ons 4 seisoene wat ons altyd ervaar in ons lewe

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar